’n Driedimensionele stereoskopiese rolprent (ook bekend as ’n 3D-rolprent of S3D-rolprent)[2] is ’n fliek wat die illusie van dieptewaarneming verhoog en dus ’n derde dimensie byvoeg. Die algemeenste metode vir die vervaardiging van 3D-prente is deur middel van stereoskopiese fotografie. Hier word ’n gewone rolprentkamerastelsel gebruik om twee beelde uit verskillende perspektiewe af te neem (of ’n rekenaar kan ná die tyd twee perspektiewe skep). Spesiale projeksiehardeware of brille word gebruik om elke beeld tot óf die kyker se linkeroog óf sy regteroog te beperk. 3D-rolprente is nie beperk tot teateruitreikings nie; televisie- of videoprente maak ook van die tegniek gebruik.
3D-rolprente bestaan sedert 1915 in die een of ander vorm, maar het nie algemeen gewild geraak nie weens die duur hardeware en prosesse wat nodig is om so ’n prent te vertoon en die gebrek aan ’n gestandaardiseerde formaat vir alle segmente van die vermaakbedryf. Tog is baie 3D-prente in die 1950's in Amerika gewys, en in die 1980's en 1990's het dit ’n wêreldwye opbloei beleef danksy IMAX-teaters en vertoonlokale met Disney-temas. In die 2000's het dit al hoe gewilder geword en ’n hoogtepunt bereik met 3D-vertonings van die rolprent Avatar in Desember 2009. Daarna het die gewildheid weer afgeneem.[3]